Putin vra vir skietstilstand om Ortodokse Kersfees te vier

Russiese President Vladimir Putin het ‘n 36-uur wapenstilstand in Oekraïne aangekondig om die Ortodokse Kersfees te vier. Dit sal van vanmiddag 12-uur tot môreaand middernag ingestel word. Die Kremlin het bevestig Putin het sy minister van verdediging, Sergei Shoigu, opdrag gegee vir die wapenstilstand oral op die gevegsfront. Baie Ortodokse Christene in die twee lande vier Kersfees op 6 en 7 Januarie. Die Kremlin het Oekraïne versoek om ook ‘n wapenstilstand te verklaar, om hulle kans te gee om dienste by te woon op dié twee dae.