Putin en Erdogan vergader oor Oekraïnse graan

Die Russiese president, Vladimir Putin, en sy Turkse eweknie, Recep Tayyip Erdogan, sal vandag in die Iranse hoofstad, Teheran, ontmoet om te praat oor Oekraïnse graanuitvoere wat as gevolg van die oorlog benadeel word. Dit lei tot vrese oor wêreldwye voedseltekorte. Berigte het verlede week daarop gedui dat omtrent 23 miljoen ton uitvoer-graan wat tans teruggehou word, verskeep sal kan word, asook Russiese graan en kunsmis wat tans onder Westerse sanksies teruggehou word. Daar word verwag dat miljoene honger sal ly. Verbruikers regoor die wêreld, insluitend in Namibië is deur die oorlog geraak. Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres sê nie net moet Oekraïnse en Russiese voedsel weer by die wêreldmark gevoeg word nie, die hele voedselstelsel moet aangepas word.