Privaatsektor leen meer in Maart

Kredietverlening in die privaatsektor het in Maart 2023 tot 3,9 persent op ‘n jaargrondslag toegeneem, vergeleke met 3,1 persent in Februarie. Volgens Simonis Storm was die jaarlikse kredietgroei gemiddeld 3,2 persent in die eerste kwartaal van 2023, vergeleke met 2,5 persent in dieselfde tydperk van 2022. Huishoudelike krediet het in Maart 2023 met 5,4 persent op ‘n jaargrondslag gegroei, vergeleke met 5 persent in Februarie 2023. Dit was die vinnigste tempo in huishoudelike kredietgroei sedert Mei 2020. Die huishoudelike krediet-opname is hoofsaaklik ondersteun deur groei in ander lenings en voorskotte, verbandlenings, paaiement- en verhuringskrediet en oortrokke fasiliteite. Simonis Storm se ekonomiese vooruitsigte 2023-verslag voorspel kredietgroei van tot gemiddeld 4,6 persent vir vanjaar.