Nampol: 24 hangende sake teen vyf gewapende rowers voor skietdood

Die Namibiese polisie het uiteindelik ‘n amptelike verslag uitgereik oor die skietdood van vyf vermeende gewapende rowers op Okahandja op 25 April. Moordklagte is teen die polisiebeamptes aanhangig gemaak. Volgens Nampol was daar 24 hangende sake wat ernstige misdaad soos onder meer poging tot moord en gewapende rooftogte teen die vyf verdagtes insluit. Die sake is in Windhoek en ses ander dorpe in die land aanhangig gemaak. Die verdagtes is geïdentifiseer as Abed Andreas, Flavianus Endjala, Marius Iipinge, Malakia Kotokeni en Erick Martin. Nampol sê in die verklaring die nadoodse ondersoeke is voltooi en bewyse is ingewin, maar verdere forensiese ondersoeke op die voertuie, selfone en vuurwapens duur nog voort. Die ongeïdentifiseerde verdagte wat uit die bewegende voertuig gespring het, word nog steeds gesoek.