Popcru eis salarisverhoging van 6%

Die Suid-Afrikaanse polisievakbond Popcru sê hy gaan voort met druk op die regering vir ‘n salarisverhoging. Die vakbond sê hy aanvaar nie die voorgestelde aanbod van drie persent wat op die openbare sektor afgedwing is nie. Popcru se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die openbare sektor het die afgelope drie jaar nie salarisverhogings ontvang nie. Hy sê hulle werk saam met die vakbond-federasies Cosatu, Fedusa en Saftu om in die komende jaar weer samesprekings met die regering te voer om die aanbod verbeter te kry. Staatsamptenare eis ‘n verhoging van minstens ses persent.