Polisielede van Vishoek ondersoek na beweerde aanranding

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het aangekondig die twee lede van die Vishoekse polisiekantoor wat op ‘n video vasgevang is waar hulle ‘n ongewapende man in die dorp aanrand, sal op 30 September in die hof verskyn. Die woordvoerder van Opod, Lizzy Suping, sê hulle word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. In die video wat op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe hulle met die man stoei en hom met ‘n knuppel slaan. Suping sê Opod ondersoek steeds die voorval.