Polisie op soek na twee aanvallers op dr. Sean de Jager van Swakopmund

Die polisie op Swakopmund is op soek na twee verdagtes wat die bejaarde dr. Sean de Jager in Mondesa aangerand en beroof het. Hy het geslaap toe hy die oggend na twee-uur ‘n klop aan die deur hoor. Hy het deur die venster gekyk en twee jong mans gesien wat hy herken het as twee vriende van sy aangenome seun. Hy het volgens die polisie die deur oopgemaak en die verdagtes het hom oorweldig en aangerand. De Jager is gewurg en met ‘n elektriese kabel aan ‘n stoel vasgebind. Hy kon later deur die badkamervenster ontsnap en na die polisiekantoor gaan. Hy is daarna in die hospitaal opgeneem en sy toestand is stabiel. Inspekteur Ileni Shapumba van die Namibiese polisie in die Erongo-streek vra die publiek se hulp om die verdagtes op te spoor.