Plasings by Namibiese staatskole ‘n tameletjie

Môre begin Namibiese staatskole en soos elke jaar is plasings van leerders by skole ‘n krisis. In die hoofstad en in landelike gebiede is skoolplasings ‘n uitdaging. Sommige ouers het vir hul kinders tot by drie skole aansoek gedoen. Daar is selfs leerders wat in ‘n ander streek sal moet skoolgaan. Plaaslike media berig die skoolhoof van Dr. Romanus Kampungu Sekondêre Skool, Thomas Zokka, sê die skool sal geen nuwe toelatings van graad 8- en 10-leerders maak nie, aangesien die ministerie van onderwys reeds verlede jaar leerders geplaas het. Hy sê leerders is by ander skole rondom Rundu geplaas op grond van die beskikbaarheid van plekke. Hy het ouers aangemoedig om na die onderskeie skole te gaan.