Plaaswerker se liggaam in woestyn gevind

Die Namibiese polisie in die Karas-streek is op soek na inligting en getuies wat kan help om die dood van ‘n plaaswerker in die Lüderitz-distrik op te los. Die 33-jarige plaaswerker, Edmund Ndaukako, se familie het hom op 14 Februarie as vermis aangemeld nadat hy op 11 Februarie op ‘n plaas begin werk het. Volgens die Namibiese polisie het hy op 13 Februarie “verstandelik gestremd” begin optree en die eienaar van die plaas het hom teruggeneem Lüderitz toe. Ndaukako het glo op pad terug sowat 50 kilometer vanaf Lüderitz van die bakkie probeer afspring en die plaaseienaar het hom langs die pad gelos. Nadat hy as vermis aangemeld is, is Ndaukako se spore gevolg en sy liggaam is 20 kilometer verder gevind.