Perde saai chaos in hartjie van Londen

Chaos het in die hart van Londen uitgebreek vanoggend toe vyf militêre perde deur die stad gehardloop, skade aangerig en hulself en soldate beseer het. Geraas van bouers naby Buckingham-paleis het die perde, van die Huishoudelike Kavallerie, laat skrik tydens ‘n repetisie. ‘n Woordvoerder van die weermag het aan die BBC gesê vyf perde het op loop gegaan en vier soldate is afgegooi en beseer. Van die perde is ook beseer, waaronder een wat in ‘n geparkeerde dubbeldekker-toerbus vasgehardloop en die voorruit gebreek het. Al die perde is intussen gevang en kry behandeling.