Passasiersvliegtuig val in Victoriameer

‘n Passasiersvliegtuig het vandag in die Victoriameer in Tanzanië neergestort terwyl dit in stormweer op ‘n lughawe in Bukoba probeer land het. Die vliegtuig het in die hoofstad Dar es Salaam opgestyg. Volgens Tanzaniese media is 15 mense tot dusver gered, maar dit is onbekend hoeveel passasiers op die Precision Air-vlug was en of daar enige sterftes is. Beeldmateriaal en foto’s op sosiale media wys hoe die vliegtuig amper heeltemal onder die water is. Slegs die vliegtuig se stert is sigbaar bo die waterlyn. Reddingswerkers in bote probeer om die passasiers wat in die vliegtuig vasgekeer is, te red.