Passasiers gestrand na vlieëniers van Keniaanse lugredery staak

Talle vlugte is gekanselleer en duisende passasiers is op die Jomo Kenyatta Internationale Lugahwe in Nairobi, Kenia, gestrand nadat vlieëniers van Kenya Airways, een van Afrika se grootste lugrederye, vandag met ‘n staking begin het. Die staking wat vanoggend begin het, raak sake- en vakansiereisigers by een van Afrika se belangrikste lugvaartsentrums. Die Kenya Airline Pilots Association sê die lugdiens se bestuur het geweier om na hul voorstelle te luister oor hoe hul griewe opgelos kan word. Die maatskappy het die beplande staking onwettig verklaar en gewaarsku dat dit sy herstel van die pandemie in gevaar kan stel. Die lugredery sê dat dit ten minste 2,5 miljoen Amerikaanse dollar per dag kan verloor.