Ovaherero-volk vra vir 28 Mei om volksmoord te herdenk

Die Ovaherero en Ovambanderu tradisionele owerhede vra dat 28 Mei opsy gesit moet word as nasionale vakansiedag ter herdenking van die volksmoord. Die owerhede het reeds ‘n week gelede die ooreenkoms onderteken en dit vandeesweek bekend gemaak. Die volk soek erkenning vir die uitroeiingsbevel wat deur die Duitse koloniale owerheid uitgereik is wat tot die dood van minstens 100 000 Ovaherero vanaf 1904 tot 1908 gelei het. Die owerhede eis ook steeds dat Duitsland om verskoning vra en dat die waardigheid van die volk herstel word. Die Duitse regering het reeds onderneem dat daar amptelik om verskoning gevra sal word maar die datum is nie vasgestel nie. Die skikking wat die regering met Duitsland bereik het, wat rondom 1,1 miljard euro se betaling insluit, het kritiek uitgelok. Die fondse sal oor 30 jaar betaalbaar wees vir ontwikkelingsprogramme.