Ouers wat onderhoud ontduik word opgespoor, gearresteer

Plaaslike media berig dat die eenheid wat deur die ministerie van justisie gestig is om onderhoud-ontduikers op te spoor, vrugte af werp. Daar is verlede jaar 555 ouers wat nie onderhoud ingevolge bevele van die hof betaal nie, opgespoor. Nege landdroshowe het lasbriewe vir die ouers uitgereik. Rundu het die meeste gevalle gehad op 194 terwyl Keetmanshoop 105 gehad het. Daar is tans nog 1 576 sake voor die hof. Dit is uiters uitdagend om die ouers op te spoor omdat die ministerie van finansies, ingevolge die wet, geen inligting oor die ouers beskikbaar kan stel nie. Justisie het nege ondersoekers en agt beamptes in die verband aangestel.