Oudminister saam met Gupta-werker op borgtog vrygelaat 

Borgtog van 10 000  Suid-Afrikaanse rand is toegestaan aan die gewese Vrystaatse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane. Hy het in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn saam met die Gupta-werknemers, Ronica Ragavan en Ugeshni Govender. Die drie staan tereg op aanklag van bedrog, diefstal, geldwassery en korrupsie wat verband hou met die Estina-suiwelplaasprojek in die Vrystaat. Na bewering is 280 miljoen rand se openbare fondse gebuit, wat bedoel was om swart boere te bemagtig. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Sindisiwe Seboka, sê borgtog van 10 000 rand is ook aan Govender toegestaan, terwyl Ragavan gewaarsku is om in November weer in die hof te verskyn.