Otavi word, nes ander, ook miljoene geskuld

Plaaslike berigte lui dat inwoners van Otavi die dorpsraad teen 6 September, 57,6 miljoen Namibiese dollar skuld. Dit is ‘n toename van amper 20 persent teenoor die 48,2 miljoen dollar wat in die 2020-21 boekjaar betaalbaar was. Die dorp se hoof uitvoerende beampte, Sakaria Haulofu sê aan plaaslike media dat skuldinvordering ‘n uitdaging regoor die land is. Hy sê huishoudings op die dorp het die swakste rekord wanneer dit kom by betaling en terwyl regeringskantore ook skuld het, betaal hulle wel, al is dit laat. Dorpsrade regoor die land sukkel met uitstaande skuld wat vererger was deur twee jaar se gedwonge watervoorsiening, ongeag die stand van die rekening. Die opdrag is gegee as gevolg van die Covid-pandemie. In die hoofstad is inwoners gevang waar hulle motors vir betaling gewas het met die water.