Orkaan Ian se dodetal styg tot meer as 40

Die dodetal as gevolg van die tropiese storm Ian, een van die kragtigste storms nog in Amerika, het tot meer as 40 gestyg. Volgens die Withuis sal President Joe Biden later hierdie week Florida besoek om die verwoesting eerstehands waar te neem. Reddingswerkers het die naweek steeds na oorlewendes gesoek in woonbuurte wat onder water is en langs die staat se suidwestelike kus. Huise, restaurante en besighede is flenters geruk toe Ian Woensdag as ‘n kragtige Kategorie 4-orkaan land bereik het.