Orkaan Fiona is op pad na Kanada

Die Kanadese Orkaansentrum waarsku teen swaar reën en wind van orkaansterkte wat die Atlantiese kus van Kanada en die oostelike dele van Quebec vandag sal bereik. Orkaan Fiona het Bermuda vroeg Vrydag met swaar reën geteister toe die kategorie drie-storm na die noordooste van Kanada beweeg het. Volgens die sentrum is orkane betreklik skaars in Kanada met storms wat hulle fut verloor sodra hulle kouer water teëkom. Fiona is op pad na die Noord-Atlantiese Oseaan waar water vinniger as elders in die wêreld warmer word. Die warmer see-temperature in dié gebied word aan klimaatsverandering toegeskryf.