Ooste het 3% water in damme, Hardap 11,9%
Volgens NamWater se weeklikse dambulletin is daar net 18 persent waterbronne in die drie sentrale damme wat onder meer Windhoek voorsien oor. Von Bach is op 11,3 persent na water van Swakoppoort, wat op 35,3 persent staan, oorgedra is. Omatako is amper leeg op 0,2 persent. In die Suide is Hardap op 11,9 persent met 672 000 kubieke meter wat in die afgelope week benut is vir die groenskema. Naute by Keetmanshoop is op 46,3 persent en die Oanobdam by Rehoboth het 42,5 persent water. Die Ooste se totale bronne is op 3 persent met die Otjiverodam op 4,1 persent. Die twee Viljoendamme by Gobabis is op 5,4 en 5,5 persent. In die Noorde staan die Olushandjadam op 38,5 persent.