Oos-Kaapse ‘tas-man’ skuldig bevind aan moord op sy vriendin

‘n Oos-Kaapse man is skuldig bevind aan die moord op sy vriendin en die versteking van haar liggaam in ‘n tas. Die hooggeregshof in Oos-Londen het Alutha Pasile se pleit van skuldig aanvaar op die moord op ‘n regstudent aan die Universiteit van Fort Hare, Nosicelo Mtebeni, in Augustus. Hy is ook skuldig bevind aan regsverydeling. Die hof het reeds met voor-vonnis-verrigtinge begin. Volgens berigte sou Mtebeni die eerste persoon in haar familie wees om ‘n graad te behaal. Pasile het erken hy het haar vermoor toe hy ontdek het sy was ontrou.