Oorskot van 3 gevind na motor in Kunene wegspoel

Die oorskot van drie mense is uiteindelik deur owerhede gevind nadat hul motor weggespoel is terwyl hulle tussen Opuwo en Okangwati in die Kunene-streek die Kunene-rivier probeer oorsteek het. NamPol se Kunene-streeksbevelvoerder, James Nderura, sê 11 mense was in die bakkie. Hulle was blykbaar besig om mopaniewurms te oes. Agt passasiers insluitend die bestuurder het die voorval oorleef en is na die Opuwo-staatshospitaal afgevoer terwyl drie verdrink het. Die identiteite van die oorledenes kan nie bekend gemaak word nie omdat hul naasbestaandes nog nie ingelig is nie. Dit is die tweede keer dat ‘n motor in die gebied weggespoel word. Nege mense is twee jaar gelede op dieselfde plek dood toe hul voertuig die rivier probeer oorsteek het.