Omgewingsministerie: Kaza-olifantsensus uiters belangrik

Die Namibiese omgewingsministerie sê die olifantsensus in die Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied, Kaza, is uiters belangrik. Kaza se olifantopname-span gaan tot einde Oktober olifante in die Namibiese gebied van Kaza in die noordooste van die land tel. Die span het twee roomkleurige 9-sitplek-toeristevoertuie en een wit dubbelkajuit met Kaza-plakkers, asook drie Cessna-vliegtuie. Die vliegtuie sal baie laag op 300 voet vlieg. Die woordvoerder van die ministerie Romeo Muyunda sê aan Kosmos 94.1 Nuus die grootste olifantbevolking in die wêreld moet wetenskaplik bestuur kan word.