Omgewingsministerie kan voertuie by Staatsgarage huur

Reaksie is ontvang oor die Namibiese Omgewingsministerie in April nie brandstof gehad het om op voorvalle van mens-dier-konflik te reageer nie. Selma Angolo van die ministerie het die aanmerking in die Kavango-Wes-streek tydens ‘n vergadering met lede van die publiek gemaak. Angolo sê daar is ook ‘n tekort aan voertuie en talle moet herstel word. President Hage Geingob het verlede jaar ‘n verbod op die aankoop van staatsvoertuie tot 2025 ingestel. Die Ministerie van Werke en Vervoer se Hoofwoordvoerder, Julius Ngweda, het aan 94.1 Nuus gesê alhoewel die Omgewingsministerie sy eie vloot het, sal die Werke-ministerie help om voertuie van die Staatsgarage te huur. Dié huurproses van voertuie geld vir ander Ministeries ook.