Oesskattings vanjaar val ver: verslag

Die landbou-ministerie het sy verslag, Oesvooruitsigte, Voedselsekerheid en Droogtesituasie Maart 2024, vrygestel. Voorlopige oesskattings dui op ‘n drastiese vermindering in die voorspelde oes, met alle streke in die kommunale gebiede wat laer as verlede seisoen se oes verwag. Die gesamentlike nasionale graanproduksie van mielies, giers, sorghum en koring word op 72 150 metrieke ton geraam. Dit is 53 persent laer as verlede seisoen se oes van 153 012 ton. Die kommersiële gebied sal ‘n oes van 35 200 ton aanteken, wat ‘n 68 persent afname van verlede seisoen se 111 000 ton aandui, en slegs 49 persent tot die nasionale graanproduksie bydra. Hierdie afname is hoofsaaklik te wyte aan die droogte in reëngevoede gebiede, en die aansienlike vermindering in getalle kommersiële boere wat hierdie seisoen mielies en koring geplant het. Slegs die besproeiings-groenskemas verwag hoër oeste vir beide mielies en koring, met onderskeidelik 24 persent en 63 persent, in vergelyking met verlede seisoen. Dit is weens ‘n merkbare toename in die aangeplante oppervlakte deur die besproeiingsgroenskemas.