Oekraïnse vlae wapper weer in Cherson

Oekraïnse gewapende magte het volgens berigte die middestad van Cherson bereik. Die woordvoerder van die Kremlin, Dmitri Peskov het vandag beklemtoon Russiese magte se onttrekking uit Cherson sal nie die gebied se status verander nie. Die Kremlin het dié streek as deel van Rusland geproklameer ná referendums in September. Die Weste en Oekraïne erken nie die referendums nie en beskou dit as onwettig. Rusland sê sy magte is uit Cherson onttrek en Oekraïne het vandag bevestig Russiese magte het uit die stad en omstreke onttrek. Intussen het die strategiese Antonivsky-brug, die enigste nabye pad-oorgang van Cherson na die Russiese beheerde oosoewer van die Dniporivier, ineengestort.