Oekraïnse President is Time se Persoon van die Jaar

Die Oekraïnse President Volodymyr Zelensky is as die Time-tydskrif se Persoon van die Jaar aangewys. Rusland het die Oekraïne in Februarie aangeval en die oorlog duur steeds voort. Die Amerikaanse tydskrif wys elke jaar ‘n persoon, ‘n groep, ‘n idee of ‘n voorwerp aan wat “ten goede of ten kwade” die meeste gedoen het om die gebeure van die jaar te beïnvloed. Suid-Afrikaanse oudpresidente Nelson Mandela en F. W. de Klerk is in 1993 benoem. Die rekenaar is in 1982 as masjien van die jaar benoem en die bedreigde Aarde in 1988.