Oekraïne: Dinge raak tuis warm vir Putin

Oekraïne se weermag kan dalk Russiese soldate verwyder van alle grondgebied wat sedert Februarie beset is. Volgens President Volodymyr Zelensky is meer as 4 000 vierkante kilometer se gebied herwin en die Amerikaanse intelligensiediens sê Russiese magte vlug oor die grens, terug na Rusland. ‘n Senior militêre ontleder, Michael Clarke, sê dit sal ‘n reuse-oorwinning wees. Clarke het bygevoeg dat dit baie belangrik sal wees om Kherson in die suide terug te neem. Kherson is net noord van die Krim-skiereiland en is die enigste groot Oekraïnse stad wat Moskou beset het. Daar is tekens dat die Russiese verdediging in Kherson besig is om te verkrummel en soldate se ammunisie en kos is moontlik besig om op te raak. Intussen lui berigte uit Rusland dat President Vladimir Putin se binnekring op hom begin draai en daar is beroepe dat hy moet uittree of in ‘n staat van beskuldiging geplaas word omdat hy sy beloftes oor die oorlog nie nagekom het nie. Dit sou blykbaar volgens hom dae geneem het om die Oekraïne saam met sy hoofstad oor te neem.