O die donkie is ‘n wonderlike ding!

So saam met Afrikaans se verjaardagvieringe (99 jaar oud) word nog ‘n spesiale dag vandag gevier. Die dag van die donkie.

Daar word baie geskryf oor die donkie en eintlik is hulle baie intelligente diere, selfs slimmer as ‘n perd.

Hier is vir jou ‘n paar nuttige sêgoed wat jy kan gebruik in jou alledaagse omgaan.

Hy is so bang soos ‘n donkie vir mooipraat:   Hy is skrikkerig.

Dan kry jy ‘n sêding wat ek glo jy iewers sal gebruik – Sy praat ‘n donkie se been af. (Die een is eintlik voor die handliggend – sy praat vreeslik baie.)

Hy is so hopeloos soos ‘n donkie in dryfsand. ( Hy kry nie veel gedoen nie, want hy is moedeloos.)

Ek glo stellig jy sal hierdie een iewers kan aanwend:  ‘n Donkie skop gouer as ‘n perd – Jy sal vinniger deur ‘n onopgevoede persoon beledig word as deur ‘n opgevoede persoon.

Ek sit en tik nou al donkiejare, en sluit hiermee af:

Hy ly aan donkiesiekte – Dalk ken jy so ‘n persoon. Dit beteken bloot iemand is bietjie lui.