NVG bekommerd oor Zuma se klag teen hoofaanklaer

Die Nasionale Vervolgingsgesag het sy kommer uitgespreek oor oudpresident Jacob Zuma se besluit om strafregtelike aanklagte teen die hoofaanklaer in sy korrupsieverhoor in te dien. Zuma beskuldig Billy Downer daarvan dat hy die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag oortree het omdat hy glo inligting oor sy gesondheid aan die media uitgelek het. Die NVG sê hy sal die oppergesag van die reg handhaaf en die meriete van die klag objektief beoordeel. Hy is egter bekommerd oor die tydsberekening, aangesien die hooggeregshof in Pietermaritzburg Dinsdag uitspraak lewer oor Zuma se aansoek waarin hy versoek dat Downer van die korrupsiesaak verwyder word.