Omikron-variant ontwikkel straks elders in Afrika

‘n Nuwe studie wat in die Science-tydskrif gepubliseer is, werp lig op die oorsprong van die Omikron-variant van Covid. Die Omikron-variant is ʼn jaar gelede die eerste keer in Suid-Afrika en Botswana aangemeld, het vinnig oor die wêreld heen versprei en dryf vandag steeds die pandemie. Dit was tot nou toe onduidelik presies hoe, wanneer en waar die Omikron-variant ontstaan het. ʼn Nuwe studie wat vandeesweek in die vaktydskrif Science gepubliseer is, toon dat voorgangers van die Omikron-variant maande voor die identifikasie van die eerste gevalle op die vasteland van Afrika bestaan het. Dié studie deur die Universiteit Stellenbosch en ander Afrika-instellings, asook Charité Universitätsmedizin Berlin in Duitsland, dui aan dat Omikron geleidelik oor etlike maande in verskillende lande oor Afrika heen kop uitgesteek het.