Nuwe Covid-variant bly moontlik, sê WGO

Tekortkominge in die waarneming van nuwe Covid-gevalle, doeltreffende toetsing en inentings sal aanhou om die perfekte omstandighede vir ‘n nuwe Covid-variant te skep, volgens die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, dr. Thedros Ghebreyesus. Hy sê minstens 90 persent van die wêreldbevolking het reeds ‘n mate van immuniteit teen die Covid-virus. Dié immuniteit is danksy vorige blootstelling aan die virus of inenting. Dit is ‘n jaar sedert die WGO die identifisering van Omikron as variant van belang bekend gemaak het.  Ghebreyesus sê Omikron is baie meer oordraagbaar as sy voorganger Delta, en hou aan om ‘n beduidende aantal sterftes te veroorsaak.