NRU vra weer reël 108 uitstel

Die Namibiese Rugby-unie vra die hoërhof weer vandag vir ‘n uitstel van die reël 108 aansoek deur Solitaire Press vir uitstaande skuld van net minder as 105 000 Namibiese dollar. Die unie het in Augustus, ter elfder uur, verdediging aangeteken nadat ‘n bevel van die beslaglegging van die Hage Geingob-stadion reeds in die hof uitgereik was. Solitaire Press het reeds op 20 Februarie verlede jaar sy eis by die hof ingedien vir die druk van boeke om die unie se honderdste bestaansjaar te herdenk. Daar was volgens Solitaire Press geen betaling nie. Teen 27 Maart 2020 het die hof ‘n beslagleggings bevel uitgereik na ‘n verstekvonnis bekom is. Die balju het die reël 108 bevel op 2 Augustus vanjaar afgelewer by die unie en toe, op 17 Augustus vanjaar, het die unie vir die eerste keer dokumente ingedien om te verdedig. Die unie vra vandag dat die saak tot einde November uitgestel word sodat die regering sy skuld kan betaal.