Noordelike grens onbeheerbaar – adjunkminister

Onwettige immigrante vanaf Angola begin ‘n erge kopseer raak vir Namibiese owerhede. Plaaslike media berig dat die adjunk minister van binnelandse sake Daniel Kashikola sê die situasie is op die oomblik onbeheerbaar. Volgens wat berig word het massa-migrasie in die afgelope twee jaar toegeneem, aangedryf deur die Covid-pandemie sowel as erge droogte, veral in die Suide van Angola. Kashikola sê dit is onmoontlik om die noordelike grense te beheer. Hy het veediewe vanuit Zambië en onwettige handelaars van Angolese brandstof as voorbeelde gebruik. Talle van hulle is ook gewapen en dreig nie net boere en lede van die publiek nie, maar ook owerhede. Daar is volgens hom ‘n ooreenkoms dat Angolese burgers wat baie na aan die grens woon, sonder ‘n paspoort Namibië kan binnekom, en so ook met Namibiese burgers na Angola, maar, dat dit tans uitgebuit word.