Noord-Korea vuur missiel oor Japan af

Noord-Korea het volgens berigte die eerste keer sedert 2017 ‘n tussenafstand- ballistiese missiel oor die noorde van Japan afgevuur. Dit het die Japannese regering genoop om sy J-Alert-stelsel te aktiveer wat inwoners op die noordelikste hoofeiland Hokkaido beveel het om skuiling te soek, en treindienste is ook tydelik gestaak. Japan se eerste minister, Fumio Kishida, sê hy veroordeel Noord-Korea se optrede ten sterkste en beskryf die afvuur van die missiel as gewelddadige gedrag. Daar word berig die voorval is blykbaar ‘n doelbewuste poging om Japan en Amerika se aandag te trek.