Nog ‘n waarskuwing oor komende aanval deur Rusland

Die Verenigde State en Europese lande het weer landburgers gemaan om die Oekraïne onmiddellik te verlaat met hernude waarskuwings van ‘n moontlike inval in die land deur Rusland. Westerse regerings maan nou reeds twee weke dat Rusland enige tyd sy buurland sal aanval. Die Kremlin beskuldig dié regerings daarvan dat hulle valse aantygings maak om hulle eie aggressie te verbloem. Russiese troepe is tans besig met oefeninge saam met Belarus se weermag in die gebied. Amerikaanse amptenare sê Rusland kan voor die afsluiting van die Olimpiese Winterspele op 20 Februarie die Oekraïne binneval en burgers is gemaan dat hulle nie ontruim sal word sou Rusland aanval nie.