Nog ‘n saak van polisie-geweld in die hoërhof

Die soveelste dagvaardiging teen die Namibiese polisie en die weermag sal na verwagting weer verwys word vir ‘n tweede sessie van bemiddeling wanneer die partye in die hof voor regter Shafimana Uietele voorkom. In die saak dagvaar Joseph Josua die regering en die twee ministers, die van polisie en die van verdediging vir ‘n skietwond wat hy in Februarie verlede jaar opgedoen het.  In sy stukke sê hy dat hy in sy kamer was rondom nege-uur op 25 Februarie verlede jaar en was besig om sy deur te sluit toe hy in die  kop geskiet is. Hy sê hy kon nie sy finale jaar op universiteit voltooi nie en moes dit herhaal en ook dat hy lelike littekens op sy kop het. Hy eis 380 000 Namibiese dollar in skadevergoeding. Die tydstip was gedurende fase twee van Operasie Kalahari. Beide die polisie en die weermag het nie net deurgeloop onder kritiek oor hul behandeling van die publiek nie, daar is ook verskeie aanrandingsake in die hoërhof waar vergoeding geëis word.