Nóg ‘n Namibiese kind in hospitaal ná aanranding

Nóg ‘n minderjarige Namibiese kind is aangerand en in ‘n hospitaal opgeneem. ‘n Vierjarige seuntjie is in die ongevalle-afdeling van ‘n hospitaal opgeneem en ‘n saak van aanranding is teen ‘n man in sy veertigs, glo van Keetmanshoop, aanhangig gemaak. Die man en die seuntjie is nie familie nie. Intussen het die Namibiese polisie bevestig dat die verdagte wat ‘n 12-jarige meisie glo wreed in Windhoek aangerand het, eers vandag in die Katutura-landdroshof sal verskyn. Die meisie is in ‘n hospitaal opgeneem. Haar ma het haar glo in die sorg van haar 39-jarige vriendin gelos omdat die ma reeds sukkel vir haar vyf ander kinders te sorg.