Nóg ‘n drawwer in die hoofstad aangeval en beroof  

’n Drawwer is van sy motor en ander items beroof in die Olympia-woonbuurt in Windhoek, langs die nuwe dubbelpad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Volgens die Namibiese polisie het die 63-jarige man sy motor langs die pad parkeer om te gaan draf. Hy het twee ander mans ook sien draf, maar hulle het glo skielik op hom afgestorm. Hy het probeer om na sy vuurwapen uit te haal, maar die verdagtes het sy hande vasgegryp en dit agter sy rug vasgehou. Hulle het sy vuurwapen en motorsleutels afgevat en met sy voertuig, ‘n wit Audi A3 met die registrasienommer N 63480 W, weggery. Nampol het niemand tot dusver in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.