Nog infrastruktuur word ontwikkel vir kommunale boere in die verre noorde

Ná die Vleisraad van Namibië se aanduiding dat die lewendehawe-bedryf in die noordelike kommunale gebiede baie goeie vordering maak, word verwag dat meer beleggings kan volg, veral wanneer die ekonomiese herlewing gestalte kry. Altesaam 3 212 beeste, 296 varke, 70 bokke en vyf skape is vanjaar tussen Januarie en April in die gebiede by veilings en plaaslike abattoirs bemark. Die verkope het ‘n geraamde waarde van 29,3 miljoen Namibiese dollar gehad. Jona Musheko, die skakelbeampte van die ministerie van landbou, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat oor die moontlikhede.