Nobelprys-wenner Malala pryk op Vogue-voorblad

Die Britse tydskrif, Vogue, het bekend gemaak dat Malala Yousafzai op die voorblad van sy Junie-uitgawe verskyn. Die Taliban het die 23-jarige aktivis van Pakistan in die kop geskiet toe sy as 15-jarige ‘n veldtog vir meisies se regte gevoer het. Sy het die aanval oorleef nadat sy na die Verenigde Koninkryk geneem is vir behandeling. Sy het op 17 die jongste Nobelprys-wenner ooit geword. Yousafzai sê in ‘n artikel in die tydskrif sy hoop elke meisie wat die voorblad sien, sal besef sy kan die wêreld verander.