NLU, veeartseny en Vleisraad help voorkom bek-en-klouseer

Die direktoraat veeartsenydienste in die Namibiese landbou-ministerie en die Vleisraad van Namibië, in samewerking met die res van die bedryf, is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag om alle moontlike stappe te neem om te voorkom dat bek-en-klouseer vanaf buurlande die land binnekom. ’n Noodkomitee is saamgestel met sleutel rolspelers en die Lewendehawe Produsente Organisasie is deel daarvan. Dit is belangrik dat alle bio-sekuriteitsmaatreëls behoorlik toegepas word. Daarom sal daar ook ‘n beroep op boere naby die onderskeie risikogebiede gedoen word om te monitor dat alle voorkomende aksies wel deur die verantwoordelike partye geïmplementeer word. Die Vleisraad sal veeartsenydienste ondersteun met personeel by alle hoof-grensposte om voertuie en reisigers te ontsmet, en om te verseker dat geen produkte wat tans verbied word, die land binnekom nie.