Ndishishi en kie weer in hof oor SME Bank-drama

Regter Hannelie Prinsloo sal vanoggend weer die saak waar die likwidateurs die direkteure van die bankrot SME Bank dagvaar, aanhoor. Die respondente is almal hooggeplaastes in die regering. Dave Bruni en Ian McClaren dagvaar Andrew Ndishishi, Petrina Nakale, Justus Hausiku, Milka Mungunda, Frans Kapofi, George Simataa, die Minister van Handel, die Finansiële Intelligensie Sentrum en die Bank van Namibië. Die likwidateurs sê hulle is verantwoordelik vir die riskante en bedrieglike wyse waarop die SME Bank bestuur is. In hulle stukke voor die hof maak hulle melding van die Bank van Namibië se goedkeuring van Enock Kamushinda se aansoek vir ‘n banklisensie. Kamushinda, volgens die twee, het nie ‘n goeie rekord gehad nie en is ook deur die Zimbabwiese Reserwe Bank as verdag beskryf. Hulle sê die media het na hom verwys as Kamushady. Talle voorbeelde word in die stukke genoem wat ‘n tekort van likwiditeit, oorbetalings en wanbestuur insluit. Hulle eis dat die respondente sonder enige beperking verantwoordelik is vir al die skuld en laste van die SME Bank en al die kostes van die likwidasie, hier en elders. Daar is ook ses eise ter waarde van 1,75 miljoen Namibiese dollar. Prinsloo sal vandag argumente aanhoor oor ‘n moontlike appèl wat Ndishishi in verband met ‘n eksepsie wil bring.