Epstein se eilande word verkoop

Private Karibiese eilande wat deur die oorlede seksoortreder en finansierder Jeffrey Epstein besit word, is in die mark gesit en sommige kenners meen die twee eilande kan tot 125 miljoen Amerikaanse dollar behaal. ’n Prokureur vir Epstein se boedel Daniel Weiner het bevestig dat die twee eilande – Little St. James en Great St. James – te koop is en dat opbrengste uit die verkoop gebruik sal word om uitstaande regsgedinge te skik. Epstein is in 2019 in die tronk dood, verhoorafwagtend op aanklagte van, onder andere, mensehandel. Epstein het die 36-hektaar Little St. James – die meer ontwikkelde van die twee – byna 25 jaar gelede vir byna 8 miljoen dollar aangeskaf en toe in 2016 Great St. James aangekoop vir 22,5 miljoen dollar. Die eiland is 65 hektaar groot.