NDGA-fonds groei fluks, maar is dit volhoubaar?

Die Namibië Deposito-waarborgowerheid, NDGA, het sy vierde jaarverslag vir die finansiële jaar geëindig 31 Desember 2023 vrygestel. Die NDGA-fonds het ‘n versnelling in groei in vergelyking met die vorige jaar aangeteken. Lid-instellings se jaarlikse premies het altesaam 5 167 016 Namibiese dollar beloop, terwyl die markwaarde van die fonds op 23 050 504 dollar gestaan het. Die fonds het gedurende die verslagjaar sy maatstaf met 66,8 basispunte geklop. Die owerheid het ‘n mandaat om die Depositowaarborgskema te bestuur, wat daarop gemik is om deposante te beskerm in geval van bankmislukkings. Dit word gedoen deur te verseker dat deposito’s op ‘n doeltreffende, deursigtige en vinnige wyse terugbetaal word. Ebson Uanguta, voorsitter van die NDGA-raad en adjunk-goewerneur van die Bank van Namibië, sê daar moet besin word oor die volhoubaarheid van hierdie ontwikkelings, gegewe die ekonomiese klimaat.