NBC: vakbond sleep uitsaaier hof toe

Regter Collins Parker sal vanoggend die dringende aansoek van die openbare werkers vakbond, Napwu, teen die NBC, die Namibiese regering en die Minister van Finansies aanhoor. Die vakbond sê die uitsaaier het die bepalings van die September 2011 ooreenkoms wat hy met die vakbond het, oortree. Stukke wat deur Petrus Nevonga, die Algemene-Sekretaris van die vakbond ingedien is, meen dat beide die regering en die NBC geweet het daar sal geen befondsing vir loonverhogings wees nie en steeds, het die NBC met die vakbond onderhandel. Dus sê Nevonga dit was alles gebaseer op ‘n illusie en daarom het die korporasie sy ooreenkoms met die vakbond verbreek. Nevonga sê verder dat die NBC probeer het om die werkers te dwing om nie te staak deur hulle nie te betaal nie, iets wat hy meen onwettig is. Personeel is volgens hom ook tydelik aangestel om die stakende werkers se poste te vul, wat nie toegelaat word nie. Die saak word verdedig en word om 10-uur vanoggend aangehoor. Intussen word daar berig dat 165 personeellede van die uitsaaier reeds terug is by die werk. Daar was oorspronklik net 67 wat nie gestaak het nie.