Navorsing oor iishanas, visbronne in Noorde

‘n Span studente van die Sam Nujoma Marine and Coastal Resources Research-sentrum by Unam is tans besig om ‘n studie uit te voer oor die vloedvlaktes in die Ohangwena-streek. Die doelwitte van die studie sluit in om visbiodiversiteit te identifiseer sowel as om te bepaal of swaarmetale in die water voorkom. Die voedingswaarde van die vis sal gekwantifiseer word ten einde voedselsekerheid te verbeter. Die studie het ook ten doel om vissers se persepsies oor voordele en uitdagings van die vloed te kry. Unam sê verder die kennis wat vissers besit, tesame met die navorsing, sal volhoubare benutting van die allerbelangrike bron toelaat. Tradisioneel vang inwoners van die Noorde vis in die iishanas wanneer dit reën en talle maak staat daarop vir ‘n voedselbron.