Napwu en NBC Donderdag in die hof

Daar word berig dat die Direkteur-Generaal van die NBC Stanley Similo al die eise van die openbare werkers vakbond Napwu, verwerp in sy beëdigde verklaring in antwoord op ‘n Hoërhof-eis wat deur die vakbond ingedien is. Die saak sal Donderdag aangehoor word. Similo sê die eise van die vakbond is ongegrond en het geen bewyse nie. In sy mening is die voortslepende staking onredelik, veral nadat die bestuur van die nasionale uitsaaier 7,6 miljoen Namibiese doller aangebied het as verhoging vir verlede jaar maar dit is verwerp. Die werkers staak sedert 23 April en sedertdien is al die NBC se kanale stil. President Hage Geingob het ook geweier om in te gryp na die nuutgestigte media vakbond Nampu gevra het dat hy betrokke raak. Die regering het die subsidie aan die korporasie met 62 persent gesny en sê daar is nie geld vir verhogings nie. Die uitsaaier is ingevolge wetgewing nie as kommersiële entiteit gestig nie en dus, funksioneer nie soos ‘n selfonderhoudende besigheid nie.