NamPower koop nou 180MW van Zambië 

Namibië koop nou 180-megawatt elektrisiteit by Zambië nadat NamPower ‘n ooreenkoms met daardie land se kragvoorsiener Zesco onderteken het. Volgens berigte duur die ooreenkoms vir vyf jaar. Namibië voer nou altesaam 460megwatt van buurlande in om aan die land se daaglikse energiebehoeftes van gemiddeld 500-megawatt te voldoen. Daar kom 200-megawatt vanaf Eskom en 80 vanaf Zimbabwe in. Die land se kragbronne is onder druk as gevolg van die lae vlakke van die Kunene-rivier wat Ruacana moet dryf. Tans word gemiddeld 80-megawatt daar opgewek, wat 17 persent van die daagliks vraag na elektrisiteit is. NamPower onderneem vyf kragopwekkingsprojekte en 11 transmissieprojekte wat daarop gemik is om sy afhanklikheid van ingevoerde elektrisiteit te verminder, waarvan die meerderheid self deur die kragvoorsiener gefinansier sal word.