Namport ‘boer’ vooruit!

Die Namibiese hawe-owerheid, Namport, sê hy het ‘n rekord 48 000 metrieke ton steenkool na Duitsland uitgevoer. Dit is die grootste besending steenkool wat tot dusver via die hawe hanteer is en dit spreek direk tot Namport se verbintenis om wêreldklasdienste aan sy kliënte te lewer. Luidens ‘n verklaring deur Namport, beplan hy om in die volgende 12 maande 300 000 ton grootmaatsteenkool te hanteer wat na verskillende internasionale markte bestem is as gevolg van die groter vraag wat ervaar word. Daar is tekorte in die noordelike halfrond, veral in Europa, as gevolg van die oorlog in die Oekraïne. Vroeër vanjaar is 30 000 metrieke ton steenkool, afkomstig van Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe uitgevoer. Die besending is per pad na die hawe vervoer. Intussen is met meer as  54 700 metrieke ton litiumerts ook na China uitgevoer. Die erts word by Xingfeng Investment, ‘n Chinese maatskappy, se litiummyn by Omaruru ontgin.