Nampol waarsku teen onwettige drankhandel

Die Namibiese polisie by Ongwediva in die Oshana-streek het die Kersnaweek drie vroue in hegtenis geneem vir die verkoop van alkohol sonder ‘n dranklisensie. Die polisie het ook beslag gelê op bottels alkohol ter waarde van meer as 24 000 Namibiese dollar. Twee vroue van 28 en 30 jaar oud is by sjebeens by Onamutai gearresteer en een 25-jarige vrou by die H20 Lounge nadat hulle glo drank onwettig en na-ure verkoop het. Nampol sê sjebeen-eienaars is herhaaldelik gewaarsku om onwettige drankhandel te vermy of vervolging in die gesig te staar. Verskeie motoriste is ook vir dronkbestuur in hegtenis geneem en moet in aanhoudingselle bly voor hulle eers môre vir borgtog in howe kan aansoek doen.